Die verhaal van Makbees

(Wat nou volg, is alles ‘n direkte aanhaling van ‘n toespraak van wyle B.J. Prinsloo, bekend as oom Ben, by die opening van die Willem Prinsloo Landboumuseum. Hierdie inligting is grootliks in Deel III ingewerk).

Oom Ben Prinsloo

“Die woord of naam ‘Makbees’ is alombekend en dui ‘n diersoort aan wat deur die mens getem is. Hier het ons egter te doen met ‘n spesifieke bees wat die naam gedra het en is dus ‘n eienaam. In die onderhawige geval was dit die naam van ‘n melkkoei wat behoort het aan Willem Petrus Prinsloo na wie die Kultuur Historiese Landbou Museum vernoem is.

Maar waar kom hierdie enigsins ongewone naam vandaan? Om dit te verhaal sal ek u ‘n stukkie van die lewensgeskiedenis van Willem Petrus Prinsloo moet meedeel.

42

 

Laat ek eers net noem dat hierdie Willem Petrus my grootoupa aan vaderskant was. Volgens vroëre gebruike moes een of meer kleinkinders wanneer nodig op versoek van ‘n oupa, by oupa en ouma vir kort of langer tye gaan bly om ligte stuurtakies te verrig. so het grootoupa sy seun met dieselfde naam (Miertjie Ie Roux se oupa) van die plaas Kaalfontein en sy seun Barend Jacobus van die plaas Tweedracht (my oupa) versoek om eersgenoemde se seun Willem Petrus (Miertjie se vader) en laasgenoemde se seun Louwrens Johannes (my vader) met tye by hulle (grootouers) te laat bly.

Baie van die verhale oor en om Willem Petrus Prinsloo is deur genoemde twee kleinkinders uit sy mond verneem. Wat nou volg is deur my vader LJ aan my meegedeel.

Grootoupa was by uitstek ‘n groot wild jagter. Hy was as seun ‘n boesem vriend van Piet Retief se seun, Klein Piet. Hy was dus trekkerskind en gewoond aan die wye oop vlaktes met al sy gevare insluitende dié van wilde diere. Hy het die natuur lewe geken en was vaardig met sy geweer.

As jong man — na sy huwelik met Johanna de Lange — het hy met sy eggenote hulle op die plaas Lusthof in die omgewing van die Pienaarsrivier gevestig. Die vryheidsdrang en jagterslus het egter by hom gebly sodat hy hom hoofsaaklik om jag toegespits het. In hierdie tyd was die wêreld nog wyd ope en het sy jagtogte gegaan sover as die destydse Suid- en Noord Rhodesië. Op hierdie togte is biltong gemaak, velle gebrei waaruit rieme gesny is, stroppe gedraai, swepe gevleg, olifante geskiet vir ivoor, ens. so ‘n jagtog het etlike maande geduur en wanneer hulle — want hulle was gewoonlik ‘n paar boere met waens — dan terugkeer, het grootoupa, na sy osse goed gerus het, met sy waens na Pietermaritzburg vertrek, waar hy sy produkte verkoop het en voorrade huishoudelike ware e.a. benodighede weer aangekoop het.

Met geld hoofsaaklik aldus bymekaar gemaak, het hy die plaas Modderfontein in die nabyheid van die teenswoordige Springs gekoop en daar gaan woon. Vir hoe lank hy en sy gesin daar gewoon het, het my nou ontgaan, dog dit was nie vir baie lank nie toe goud op die plaas ontdek is en hy genader was om dit te verkoop. Hy wou eers nie maar is deur vriende gewaarsku dat indien hy volhard daar moontlik op slinkse wyse gif in sy kos of water gegooi kon word.

Dit het toe ook so gebeur dat die maatskappy wat belang gestel het, met alle goeie bedoelings, ‘n kissie droë vrugte aan hom gestuur het, maar gedagtig wat aan hom gesê was, het hy die kissie met vrugte net so in ‘n naby geleë droë put laat gooi.

As gevolg van heelwat druk wat op hom uitgeoefen is, het hy later besluit om maar te verkoop vir ‘n aangebode prys van vyftigduisend pond maar met die voorbehoud dat daar nog ‘n deur hom goedgekeurde mofkoei (melkkoei) by die prys gevoeg word. Dit is toe ook so aanvaar.

 

Die geld is deur hom hoofsaaklik weer in grond belê sodat met sy afsterwe daar 19 Plase en een erf in Pretoria op sy boedel was.

Een van hierdie Plase was in gedeelte van die plaas waar die huidige Cullinan Diamantmyn op geleë is. Die Cullinan diamant is op sy deel gevind en hierdie grond is later verkoop vir 100 000 pond. ‘n Ander plaas is Kaalfontein waar hy ‘n tydperk gewoon het in die ou woonhuis wat ingesluit is by die grond wat Miertjie Ie Roux aan die Museum Raad geskenk het.

Willem het ook nie baie lank hier op Kaalfontein gebly nie, toe hy na ‘n ander plaas van hom, nl. Sorgvliet — suid van Bronkhorstspruit — getrek het, waar hy oorlede en begrawe is.

Maar om terug te kom na die ‘mofkoei’ as deel van die koopprys. Dié het hy aan sy vrou

Johanna wat hy die liefnaam ‘Juffrou’ gegee het, geskenk. Sy het haar (die mofkoei) die naam ‘Makbees’ gegee. Sy was so mak dat wanneer sy op die naam geroep is, sy na die kombuis gekom het waar grootouma haar dan ‘n sny botter-en-brood met soms konfyt ook op, gegee het.

Dit is die kortverhaal van ‘Makbees’. Toe ek gevra is om in my privaat hoedanigheid op die advieskomitee te dien het ek, behalwe ‘n paar basterskape, ook ‘n frieskoei aan die Willem Prinsloo Landbou Museum geskenk; hierdie verhaal meegedeel met ‘n vriendelike versoek dat hierdie frieskoei (mofkoei) die naam ‘Makbees’ sal dra en daarmee die verhaal, sal voortlewe as Kultuur Historiese besit.

Tant Miertjie Ie Roux, skenker van die Willem

Prinsloo Landbou Museum

Our Blog

Latest Articles

Inleiding

Soos die geslagte kom en gaan, is daar baie waardevolle inligting oor familievoorgeslagte wat met...

read more

Die Gelofte

Vroeg in Desember 1838 het Andries Pretorius inligting ontvang dat die Zoeloes besig is om te...

read more

Voorbereiding

Die Wenkommando — so is hulle ook genoem — het Saterdag 15/12/1838 die Buffelsrivier oorgesteek en...

read more

Veldslag

Twee uur voor dagbreek was die Trekkers reeds op hul poste. Daar was egter 'n digte mis oor die...

read more

Wonderwerke

God se Almag en genade vir die Voortrekkers kan baie duidelik gesien word as die volgende onder oë...

read more

Nalatenskap

Willem Petrus Prinsloo (Willem Wragtag) het inderdaad as welgestelde man gesterf. Ten tyde van sy...

read more

Kinders

Willem Petrus Prinsloo (Willem Wragtag) is gedurende 1841 met Maria Johanna de Lange getroud. Uit...

read more

Jolyt in Pretoria

Alhoewel Pretoria in die vyftigerjare van die negentiende eeu (Pretoria is in 1855 gestig) nog 'n...

read more

Dapper Willem

Oor Willem se dapperheid kan boekdele geskryf word. Terwyl hy op 'n jaggeleentheid in...

read more

Die spitgraaf

Volgens die gewoonte van daardie tyd, het een of meer van Willem Petrus Prinsloo se kleinkinders...

read more

Inleiding

FAMILIEGESKIEDENIS VAN NASATE VAN WILLEM PETRUS PRINSLOO (WILLEM WRAGTAG) Soos in die Inleiding...

read more

Ready to Make a Change?

Nunc consequat justo eget enim finibus porta. Suspendisse orci nunc. Nunc consequat justo eget enim finibus porta. Suspendisse orci nunc.