Verdere geskiedenis

Gedurende die begin van die 1850s, het Willem sy beroep van grootwildjagter begin beoefen. Jagtogte kon weke en soms maande lank duur. Die jagters het transportwaens op hul ekspedisies saamgeneem om die jagprodukte soos velle, biltong en ivoor, na handelsmarkte te vervoer. Normaalweg is hierdie produkte vir ander gebruiks- en verbruiksitems geruil. Willem het veral hom op ivoor toegespits en sy ivoor by Durban of Lourenco Marques vir kontant verkoop.

In 1851 het Willem so ‘n tog na die Ngami-meer (in die hedendaagse Botswana) meegemaak.

Die leier van die geselskap was Jan Viljoen, ‘n kennis uit Willem se verblyftyd by Winburg. Martinus Swartz en Petrus Jacobs het ook saamgegaan. Na bewering het hulle die Victoria waterval bereik lank voordat David Livingston dit in 1855 amptelik ‘ontdek’ het. Tipies van die Engelse, het Livingston later beweer dat die geselskap wapens en ammunisie aan die inboorlinge verhandel het! Wat waar is, is dat die jagters wel op goeie voet met die inboorlinge was en ook toestemming van hulle gehad het om in die gebied te mag jag. (Later jare toe Willem reeds oud was, het hy weer die Ngami-meer besoek).

Met die inkomste uit ivoor was Willem in staat om mettertyd twee Plase te koop. Aanvanklik het hy die plaas Lusthof, langs die Pienaarsrivier gekoop, waar hy en sy gesin asook sy vader woonagtig was. Hy het later die plaas Modderfontein bygekoop. Modderfontein was tussen die hedendaagse Springs en Benoni geleë. Hy het in hierdie stadium (ongeveer 1873) opgehou jag en hom op hierdie plaas gevestig met die oog om ‘n stiller lewe te lei en daarop te boer. Hy het Modderfontein op 31/01/1873 by E.M.K. Struben vir driehonderd pond sterling gekoop.

Ongeveer 15 jaar later (1887) is goud op die plaas ontdek. Volgens oorlewering van tant Sarie Wassenaar (II), het die prospekteerders aanvanklik goud in van die klippe waarmee die kraalmuur gebou was gewaar, waarna hulle met erns begin prospekteer het. Alhoewel mynmaatskappye hom genader het om die plaas te verkoop, het hy botweg geweier. Geld was nie vir hom belangrik gewees nie en sy rus en vrede op sy plaas met sy vrou was vir hom meer as enige geld werd.

Willem het mettertyd onder die druk geswig (kyk ook deel IV) en op 19/06/1894 (vier jaar voor sy dood), die plaas Modderfontein aan ‘De Modderfontein Restante Syndicaat’ vir 21 000 pond sterling, 40 000 aandele en een melkkoei (Makbees) verkoop. Hy het dus 20 700 pond sterling wins op hierdie plaas gemaak. Ander bronne noem die bedrag van 55 000 pond sterling en die maatskappy as ‘Herman, Eckstein en Kie’. Ongeag watter bron korrek is, is die feit dat hy teen hedendaagse geldwaardes miljoene rande wins gemaak het. Tydens eersgenoemde transaksie het sy oudste seun Lang Willem en meneer Lionel Phillips as agente opgetree. Die betaling het in ‘n Johannesburgse bank geskied waar genoemdes teenwoordig was. Die goue ponde was in dertig sakkies geplaas, maar die agente het aangedring dat dit fisies voor hulle getel moes word!

Die skielike rykdom het geen invloed op Willem Wragtag gehad nie. Hy het nie uitspattige luukshede gekoop en ‘n verhewe sin van ‘ek is ryk’ geopenbaar nie. Sy optrede, godsdienstigheid, lewenswyse en lewensuitkyk het dieselfde gebly. Hy was steeds streng maar nie suinig nie. Hy het volgens oorlewering ruimskoots geld aan sy kinders gegee indien hy gedink het dit is nodig en slegs wanneer ‘n kind dit werklik nodig gehad het.

 

Aanvanklik het hy sy geld aan Standard Bank in Johannesburg toevertrou, maar later uit wantroue in die stabiliteit van die bankwese, ten tye van die Eerste Vryheidsoorlog, al sy geld onttrek, die bankbestuurder se smekinge en versekerings ten spyt. Tuis het hy dit volgens oorlewering in die voorhuis gehou in die nabyheid van ‘n gelaaide geweer. Ander bronne vermeld dat sy seuns snags beurte gemaak het om die geld op te pas.

Die meeste van die geld het hy in eiendom herbelê en Plase gekoop sodat hy dit aan sy kinders kon nalaat. Hy het ook in Oktober 1889 die plaas Kaalfontein (2802 morg) uit die boedel van Frederick Willem Munroe gekoop en soontoe verhuis. Hy het ‘n kort rukkie daar gewoon en toe na die plaas Zorgvliet, ten suide van die huidige Bronkhorstspruit (destyds Erasmus) verhuis. Die plaas het hy reeds in 1887 van Frederik Hendrik Geyser gekoop.

Die boere van daardie tyd het Plase in die Hoëveld sowel as die Bosveld gehad. Winterweiding vir die vee was skaars op die Hoëveld aangesien die gras doodryp. Die boere het gevolglik herfstyd met hulle vee na die Bosveld getrek. Willem het ook Bosveldplase gekoop en sy hele gesin was ook, soos die gebruik was, by so ‘n trek betrokke. Die dogters moes die skape en die seuns die beeste aanja en versorg. Hulle onderwyser het gewoonlik saam met hulle getrek.

Willem Petrus Prinsloo (Willem Wragtag) se gesondheid het mettertyd baie versleg. Hy het veral erge las van jig gehad. Dit was vir hom te ver om die warmwaterbronne by Warmbad, wat wel vir hom verligting gegee het, te besoek. Hy het gevolglik ‘n groot houtbad laat maak en dit gereeld met warm klippe en water gevul om sodoende ‘n ‘natuurlike’ warmwaterbad te maak.

Ten spyte van rykdom, pyn en lyding, het Willem se geloof in sy Skepper nie verswak nie. Die oggend van 20 Augustus 1898 het hy van sy familie afskeid geneem en op die ouderdom van 78 jaar gesterf. ‘n Week tevore het hy reeds besluit dat Psalms 89:19 en 103:8 op sy begrafnis en Psalm 72:1 by sy graf gesing moes word. Die voorlesing moes uit Job 14 kom, waar Job vir God vra om verlos te word van sy lyding. Die begrafnis het op sy plaas Zorgvliet plaasgevind, waar hy sy laaste jare deurgebring het. Sy doodsberig in ‘De Volkstem’ van Pretoria op 27/08/1898 lui:

“aan vriendin en bloedverwanten wordt bekend gemaakt dat het den Almachtegen God van Leven en Dood behaagt heeft, om mijn teeder beminden echtgenoot Willem Petrus Prinsloo uit den tijd naar de eeuwigheid weg te nemen, op den 20e Augustus 1898, in den ouderdom van 78 jaar, 6 maanden en 1 dag”.

Dit word ook in die berig vermeld dat hy lid van die Mahoempa-kommando was — moontlik die kommando onder Paul Kruger wat in 1858 uitgestuur is om teen Mahara, ‘n kaptein van die Tlhaping, op te tree.

 

In ‘n doodsberig wat in “The Pretoria News” verskyn het, is Willem Prinsloo as ‘n onverskrokke jagter en een van die rykste Transvalers beskryf. Daar word 00k vermeld dat hy respek van sy landsgenote geniet het, wat ‘n aanduiding van sy eerbare karakter was.

Our Blog

Latest Articles

Inleiding

Soos die geslagte kom en gaan, is daar baie waardevolle inligting oor familievoorgeslagte wat met...

read more

Die Gelofte

Vroeg in Desember 1838 het Andries Pretorius inligting ontvang dat die Zoeloes besig is om te...

read more

Voorbereiding

Die Wenkommando — so is hulle ook genoem — het Saterdag 15/12/1838 die Buffelsrivier oorgesteek en...

read more

Veldslag

Twee uur voor dagbreek was die Trekkers reeds op hul poste. Daar was egter 'n digte mis oor die...

read more

Wonderwerke

God se Almag en genade vir die Voortrekkers kan baie duidelik gesien word as die volgende onder oë...

read more

Nalatenskap

Willem Petrus Prinsloo (Willem Wragtag) het inderdaad as welgestelde man gesterf. Ten tyde van sy...

read more

Kinders

Willem Petrus Prinsloo (Willem Wragtag) is gedurende 1841 met Maria Johanna de Lange getroud. Uit...

read more

Jolyt in Pretoria

Alhoewel Pretoria in die vyftigerjare van die negentiende eeu (Pretoria is in 1855 gestig) nog 'n...

read more

Dapper Willem

Oor Willem se dapperheid kan boekdele geskryf word. Terwyl hy op 'n jaggeleentheid in...

read more

Die spitgraaf

Volgens die gewoonte van daardie tyd, het een of meer van Willem Petrus Prinsloo se kleinkinders...

read more

Inleiding

FAMILIEGESKIEDENIS VAN NASATE VAN WILLEM PETRUS PRINSLOO (WILLEM WRAGTAG) Soos in die Inleiding...

read more

Ready to Make a Change?

Nunc consequat justo eget enim finibus porta. Suspendisse orci nunc. Nunc consequat justo eget enim finibus porta. Suspendisse orci nunc.