Lewensgeskiedenis tot en met die Slag van Bloedrivier

Soos reeds in Deel I genoem, is Willem Petrus Prinsloo (Willem Spreeu), op 04/10/1819 getroud met sy niggie Maria Elizabeth Prinsloo, wat drie jaar voor die huwelik haar eerste man en ook ‘n neef, Hendrik Frederick Prinsloo aan die dood afgestaan het toe hy as volg van die Slagtersnekrebellie terreggestel is. Willem Spreeu en sy vrou het op die plaas Spreeukloof in die omgewing van Somerset-Oos geboer.

Op 19/02/1820, vier en ‘n half maande na sy ouers se huwelik, is die oudste seun, Willem Petrus Prinsloo, gebore. Die volgende kan nie bevestig of ontken word nie, maar dit mag ‘n verklaring wees van sekere aannames wat vervolgens gemaak word.

Dit is insiggewend dat Willem Petrus Prinsloo (junior) nie as oudste kleinseun na sy oupa Jochemus Johannes Prinsloo (D4) vernoem is, soos die gebruik was nie, maar wel na sy vader Willem Spreeu self. Die afleiding wat gemaak kan word, kan tweërlei vertolk word:

            Hierdie was ‘n “moet trou” situasie wat in daardie dae as ‘n skande gereken is.

 Dit was ook nie aanvaarbaar dat neefs en niggies trou nie — nog erger as dit, is dat Maria Elizabeth twee keer agtereenvolgens met ‘n neef van haar getroud is!

In die lig van bogenoemde, en aangesien Jochemus Johannes Prinsloo by die geboorte van Willem Petrus (junior) nog geleef het (hy is vyf jaar later oorlede), wil dit voorkom asof hier ‘n familieskeuring kon plaasgevind het. Dit is wel insiggewend dat Willem Spreeu later (datum onbekend) ‘n ander seun na sy vader Jochemus Johannes vernoem het — moontlik kort voor of na sy dood op 27/06/1825.

Predikante was by die oosgrens van die Kaapkolonie baie skaars en op 06/08/1820 het Willem Spreeu en sy vrou Maria, hulle seun te Cradock deur Ds. Evans, wat ‘n predikant van Skotse afkoms was, laat doop. Cradock het op daardie stadium nie ‘n eie predikant gehad nie, en is van tyd tot tyd deur Ds. Evans besoek.

Daar was op daardie stadium baie Willem Prinsloos aan die oosgrens. Daarom het Willem Petrus Prinsloo (senior) die bynaam “Willem Spreeu” (die naam van die plaas waarop hy geboer het) en klein Willem Petrus Prinsloo die bynaam “Willem Wragtag” gekry. Hy het blykbaar baie “wragtig” gesê toe hy klein was, of sy pa het met hom geraas deur die woord wragtig te gebruik. Willem Wragtag se tweede oudste seun Barend, het baie jare later gesê dat sy vader — volgens sy wete — nooit so ‘n woord by wyse van gewoonte gesê het nie. Nietemin, menige geskrifte verwys na hom as Willem Wragtag.

Toe die Groot Trek begin plaasvind het, was Willem Wragtag ‘n tienerseun. Hy was, soos reeds in Deel I beskryf, saam met sy vader ‘n deel van die Maritz-tre.kgeselskap wat in die rigting van

 

die Oos-Vrystaat saam met die trekgroep van Potgieter getrek het. Vir die trekkerkinders het die veld hul vernaamste leermeester geword. Veral die vermoë om die vuurwapen blitsig te kan hanteer en die natuur ‘reg te lees’. Die Trek was vir Willem Wragtag as seun ‘n leerskool wat hom vir toekomstige veldslae asook sy latere avontuurryke toekoms as Transvaalse pionier voorberei het.

Die trekgroepe van Maritz en Potgieter het aanvanklik saam getrek en Willem Wragtag het as seun aan die strafekspedisie teen die Matabeles (1836- 1837) deelgeneem. Direk daarna het tweespalt tussen die trekkerleiers ontstaan en soos reeds bespreek, is Gerrit Maritz en sy trek oor die Drakensberge Natal toe. Die ontberings wat hierna gevolg het is ook reeds volledig beskryf.

Klein Piet, die seun van Piet Retief, en Willem Wragtag was boesemvriende. Hulle het selfs dieselfde en eenderse onderbaadjies gedra! Toe Piet Retief, sy seun en ongeveer honderd manne met ‘n traktaat na Dingaan gegaan het, het Willem saamgegaan, maar oppad het hy ‘n maagaandoening opgedoen en moes noodgedwonge omdraai. Dit het sy lewe gered aangesien almal by Mgungundlovu wreedaardig deur die Zoeloes vermoor en in die veld gelaat is (kyk Deel II). Hulle lyke is deur die Zoeloes in die veld gegooi. Maande later was Willem in staat om sy boesemvriend se oorskot in die veld uit te ken op grond van die onderbaadjie wat die geraamtes bedek het.

As 18jarige tydens die Slag van Bloedrivier het Willem Wragtag saam met sy vader Willem Spreeu aan die veldslag deelgeneem. Hy was dus ook direk gebonde aan die Gelofte wat hierdie oorlog voorafgegaan het. (Hierdie is alles in Deel II beskrywe).

Na die slag van Bloedrivier het hy en sy ouers hulle in Natal gevestig. Dit is nie bekend waar presies nie, maar vermoedelik by die huidige Pietermaritzburg want die Geloftekerk is op daardie stadium as deel van die Gelofte daar opgerig.

Die name van die Prinsloos kom in talle geskrifte uit die tyd van die Voortrekkers, soos die dagboek van Erasmus Smit, voor.

Dit dien in hierdie stadium gemeld te word dat daar beslis ook ander Prinsloos by Gerrit Maritz sowel as Andries Hendrik Potgieter se trekke teenwoordig was, maar inligting in dié verband is nie beskikbaar nie.

Our Blog

Latest Articles

Inleiding

Soos die geslagte kom en gaan, is daar baie waardevolle inligting oor familievoorgeslagte wat met...

read more

Die Gelofte

Vroeg in Desember 1838 het Andries Pretorius inligting ontvang dat die Zoeloes besig is om te...

read more

Voorbereiding

Die Wenkommando — so is hulle ook genoem — het Saterdag 15/12/1838 die Buffelsrivier oorgesteek en...

read more

Veldslag

Twee uur voor dagbreek was die Trekkers reeds op hul poste. Daar was egter 'n digte mis oor die...

read more

Wonderwerke

God se Almag en genade vir die Voortrekkers kan baie duidelik gesien word as die volgende onder oë...

read more

Nalatenskap

Willem Petrus Prinsloo (Willem Wragtag) het inderdaad as welgestelde man gesterf. Ten tyde van sy...

read more

Kinders

Willem Petrus Prinsloo (Willem Wragtag) is gedurende 1841 met Maria Johanna de Lange getroud. Uit...

read more

Jolyt in Pretoria

Alhoewel Pretoria in die vyftigerjare van die negentiende eeu (Pretoria is in 1855 gestig) nog 'n...

read more

Dapper Willem

Oor Willem se dapperheid kan boekdele geskryf word. Terwyl hy op 'n jaggeleentheid in...

read more

Die spitgraaf

Volgens die gewoonte van daardie tyd, het een of meer van Willem Petrus Prinsloo se kleinkinders...

read more

Inleiding

FAMILIEGESKIEDENIS VAN NASATE VAN WILLEM PETRUS PRINSLOO (WILLEM WRAGTAG) Soos in die Inleiding...

read more

Ready to Make a Change?

Nunc consequat justo eget enim finibus porta. Suspendisse orci nunc. Nunc consequat justo eget enim finibus porta. Suspendisse orci nunc.